Get Adobe Flash player

Ons onthou graag die voorlaaiers, die Gelofte, die kakebeenwaens en veghekke ... en vergeet maklik die Bybel van die Voortrekkers. Ons vergeet hul Christelik-gereformeerde (Calvinistiese) agtergrond. In hierdie artikel gee ons weer die nodige aandag aan die Bybel van die Voortrekkers.

 

Op 6 April 1652 plant Jan van Riebeeck die VOC vlag in die Kaap en bou Fort Duijnhoop, die eerste Nederlandse nedersetting aan die Kaap. Dis nie al wat Jan van Riebeeck aan die Kaap kom plant en bou het nie. Hy plant ook die gereformeerde Christelike leer met die Nederlandse Statebybel in die hand.

"... u ware gereformeerde Christelike leer voort te plant en bekend te maak tot lof van u heilige Naam ..." 'n gedeelte uit die gebed van Jan van Riebeeck 1652.

Nie net is die Statebybel die Bybel waarmee Jan van Riebeeck aan die Kaap geland het nie, maar dit is ook die Bybel wat saam met die Voortrekkers op trek was. Dit is die Bybel wat op Bloedrivier was. Dit is die Bybel wat Sarel Cilliers gebruik het. Dit is die Bybel van oom Paul Kruger. Dit was die Bybel van hierdie land tot 1933.

[ foto regs : die titelblad van 'n Nederlandse StateBybel gedruk in 1654 - Uit die Bybel versameling van Willie Smith]staten_01.png

Kort Geskiedenis

Deur die kerkhervorming van die 16de eeu word vertalings van die Bybel al meer en meer beskikbaar. Martin Luther se Duitse vertaling van die Nuwe Testament sien in 1521 die lig. Gedurende 1534 verskyn Luther se vertaling van die Ou Testament.

In 1611 verskyn die Engelse King James Version, terwyl die Nederlandse Statebybel in 1637 verskyn.

Geskiedenis van die Statebybel

Die "Statevertaling" was nie die Nederlanders se eerste Bybel nie. Hulle spog reeds in 1562 met 'n Nederlandse vertaling wat die 'Deuxaesbijbel' genoem word. Dit was ook nie die enigste vertaling nie, maar hierdie Bybel was in daardie jare die meeste in gebruik.

[ foto regs : die titelblad van die 'Deuxaesbijbel' - 1562 ]staten_02.png

Marnix van St Aldegonde se kritiek teen hierdie vertaling ('Deuxaesbijbel') was: Ik houd de gebruikelijke vertaling voor zóó gebrekkig, dat zij een geheel nieuwe bearbeiding eischt. Er moet een nieuw werk komen. Want onder al de vertalingen, die bestaan -ik moet het eerlijk bekennen-, is geen zóó ver verwijderd van de Hebreeuwse waarheid als die van Luther, uit welke gebrekkige Hoogduitsche overzetting onze nog gebrekkiger Nederlandsch-Duitsche is voortgekomen.

Hierdie ontevredenheid het daartoe gelei dat die kerke besluit het om die Skrif te vertaal direk vanuit die Hebreeus en Grieks, terwyl die beste vertalings van Bybels in ander tale geraadpleeg sou word. Hierdie taak sou opgedra word aan een of twee persone terwyl deputate vanuit al die provinsies kontrole oor die vertaalwerk sou uitoefen.

Marnix van St. Aldegonde is as vertaler aangestel. Na sy afsterwe in 1598 gaan Arnoldus Cornelisz en Wernerus Helmichius met die werk voort. Cornelisz sterf in 1605 en word aan Helmichius opdrag gegee om die enorme werk voort te sit.

Die Sinode van Noord Holland van 1607 het gesien dat hierdie taak 'n onbegonne taak vir een persoon was. Hierdie Sinode het nie die bevoegdheid gehad om meer vertalers aan te stel nie, en was dit in die hande van die Nasionale Sinode.

Helmichius sterf 'n jaar later en almal moes nou maar wag vir die Nasionale Sinode om met besluite en opdragte te kom.

volgende bladsy >>