Teken In

Betaalde Advertensie

Kort agtergrond.

Die verspreiding van die Christendom in Italië, Noord-Afrika, Spanje en Gallië het die vertaling van die Bybel in Latyn genoodsaak. Die belangrike Latynse vertaling is die Vulgaat, die werk van die kerkvader Hieronymus (in 405 voltooi). Daarnaas was daar in die oudheid ook Siriese, Koptiese, Armeense, Gotiese en ander vertalings. Na die Hervorming het vertalings van die Bybel in verskillende tale vinnig toegeneem. So het Martin Luther in 1521 tydens sy verblyf in Wartburg met die vertaling van die Nuwe Testament in Duits begin. Die vertaling is in 1522 voltooi. Met die hulp van ander geleerdes het hy vervolgens die Ou Testament vertaal. Die vertaling was in 1534 gereed.

Luther se Bybelvertaling was van groot waarde sowel vir die godsdienstige lewe in Duitsland as vir die vorming van die hoog-Duitse taal.

In Nederland was die amptelike Bybel die bekende Statevertaling (Statenbijbel ) wat in opdrag van die Sinode van Dordrecht en met die geldelike steun van die State-Generaal in 1637 gedoen is.

Tot 1933, met die verskyning van die Bybel in Afrikaans, was die Statevertaling die Bybel van die Afrikaner en hul voorvaders in Suid-Afrika. Dit was ongeveer drie eeue lank by hulle 'n veelgelese boek - dikwels hul enigste boek.

Die Afrikaanse Bybel is oorgesit of vertaal vanuit die oorspronklike tale (Hebreeus, Grieks en Aramees) en uitgegee deur die Bybelgenootskap, in opdrag van die Gesamentlike Kommissie van die drie Hollandse Kerke in Suid Afrika, en is deur die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap in Engeland gedruk.

Inisiatief van die Genootskap van Regte Afrikaners (1872 - 1911)

Die eerste openbare pleidooi vir die vertaling van die Bybel in Afrikaans was 'n brief deur Dr. Arnoldus Pannevis wat op 7 September 1872 in De Zuid-Afrikaan verskyn het. Daarin het hy daarop gewys dat die Nederlandse Statevertaling vir de eenvoudiger gedeelte der bevolking 'n geslote boek geword het omdat hulle dit nie meer verstaan het nie. Uit korrespondensie wat daarop gevolg het, het dit egter geblyk dat die meeste mense sterk gekant was teen 'n Bybelvertaling in Afrikaans.

As wegbereider vir 'n Bybelvertaling het C.P. Hoogenhout in 1873 die verhaal van Josef in Afrikaans uitgegee: Die geskiedenis van Josef voor Afrikaanse kinders en huissouwens, in hulle eige taal geskrijwe deur een vrind. In die slot van hierdie boekie het hy 'n sterk pleidooi gelewer vir 'n Afrikaanse vertaling van die Bybel.

Op 7 November 1874 het Pannevis en Hoogenhout regstreeks aan die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap (BBBG) geskryf om te pleit dat 'n Afrikaanse vertaling onderneem moet word. Pannevis, wat die Bybelvertaling suiwer om godsdienstige redes bepleit het, het in die brief Afrikaans in 'n swak lig gestel, sodat die BBBG 'n Afrikaanse Bybelvertaling afgewys het. Die BBBG het die saak nietemin na sy sekretaris in Suid Afrika, ds. Geo Morgan verwys. Op die predikantekonferensie in Julie 1875 op Wellington is die vertaling van die Bybel in Afrikaans toe ook afgekeur.

Hierdie toedrag van sake het gelei tot die besef dat 'n stryd begin moes word vir die erkenning van Afrikaans as skryftaal. Met die oog daarop is die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) op 14 Augustus 1875 in die Paarl gestig onder leiding van ds. S.J. du Toit.

Eers op 'n vergadering in 1878 het die GRA besluit dat die tyd ryp was vir 'n vertaling van die Bybel in Afrikaans. Die taak is in 1885 aan ds. S.J du Toit opgedra. Aanvanklik het die werk nie goed gevorder nie, maar nadat ds. du Toit hom vanaf 1890 heeltyds daaraan kon wy, het die volgende boeke in Afrikaans verskyn:

  • Genesis - 1893
  • Matteus - 1895
  • Openbaring - 1898
  • Psalme - 1907

In die tydskrif Stemmen des Tijds:

  • Hooglied - 1905
  • Handelinge - 1908
  • Markus - 1908

Voor sy dood in 1911 het ds du Toit ook aan die vertaling van Lukas gewerk. Hoewel hierdie vertaling nie by die kerklike publiek ingang gevind het nie, het dit bewys dat die Bybel wel in Afrikaans vertaal kon word.

volgende bladsy >>


Facebook