"Calvyn in die wakis" was die tema van die Calvynfees wat op 25 Oktober 2009 by die Voortrekkermonument in Pretoria gehou is. Prof. JAE Adendorff was die aanbieder.
"Dis ek. My naam is Voortrekker, pionier, landsontdekker. Ek is in die woorde van GA Watermeyer ‘n klein uitgerukte Westerloot wat in die Suide stam kom stoot . Maar noem my ook Calvinis, want my volk se geboorte-uur op Afrikaanse bodem was gedrenk in die gereformeerde godsdiens. Julle onthou mos: Vir die Rooms Katolieke ontdekkingsreisigers Dias en Da Gama het die Kaap geen tuiste gebied nie. Dit was vir hulle die Kaap van storms. Maar toe het God in sy albeskikking die gereformeerde Hollander Jan van Riebeeck hier ‘n holte vir sy voet gegee. Deur die loop van jare kom sy gebed op 8 April 1652 na ons aangesweef: … waar ons in U Heilige Naam … vergader is om … besluite te neem … tot voortplanting en uitbreiding van U ware gereformeerde Christelike leer … bid ons U, o allergenadigste Vader, om met U Vaderlike Wysheid ons by te staan …. Só het dit dan gekom dat my volk, die Afrikaner, as’t ware met die Bybel en die gereformeerde belydenisskrifte in die wieg gebore is. En dit het ons geestelike kinders gemaak van Johannes Calvyn, die groot hervormer van Genéve."
[ laai af - Afrikaans - Prof. J.A.E. Adendorff ]