Sarel Cilliers
Gebore: 7 September 1801, oorlede 4 Oktober 1871
Vader: Carel Cilliers
Moeder: Elizabeth Catharina Louw
Sarel Cilliers was die nie-amptelike leraar van die Potgieter-trek. Bedags het
hy die godsdiensoefeninge en Sondae die eredienste gelei. Tydens die Groot Trek
het hy hom as geestelike leier onderskei: op 8 Februarie 1837 is hy as een van twee
diakens in die eerste kerkraad verkies, in kommando's en kommissies het hy die
geestelike leiding geneem en vòòr veldslae die Heer in gebed om hulp gesmeek en
daarna weer die dankgebed gedoen. In Mei 1836 het hy die Potgieter-kommissie op
soek na Louis Tregardt vergesel, en in Oktober saam met A.H. Potgieter en ongeveer
veertig weerbare mans en seuns die aanval van die Matebelemag van sowat 5 000,
by Vegkop afgeslaan. In 1837 het hy beide strafekspedisies teen Mzilikazi vergesel.
In die jong republiek het Cilliers veral as geestelike leier uitgemunt. As ouderling
van die Winburg-gemeente en na 1861 van die Kroonstadse gemeente, het hy jare lank
die bevolking van die noordelike streke bedien, leiding geneem met die afstigting
van die Kroonstadse gemeente en die oprigting van 'n kerkgebou. In 1862 het hy saam
met ander afgevaardigdes van die Transoranje óór Durban na Kaapstad gereis om die
Sinode van die NG Kerk by te woon. Die nag van 14 Oktober het die boot waarmee nulle
gereis het, die Waldensian, in die omgewing van Struisbaai gestrand. Niemand het
omgekom nie. By die Sinodesitting is die afgevaardigdes van Transoranje deur 'n
omstrede hofbeslissing (die bekende Loedolf-saak) sittingsreg ontneem. Die uitloop
hiervan was die stigting van 'n selfstandige NG Kerk in die OVS in 1864. Cilliers
het as ouderling en afgevaardigde van Kroonstad die historiese gebeure meegemaak.
In Mei 1865 het Cilliers die eerste Vrystaatse Sinodesitting bygewoon en is onder
meer as lid van die regskommissie aangestel.