Andries Wilhelmus Jacobus Pretorius 1798-1853

Andries Wilhelmus Jacobus Pretorius (gebore te Graaff-Reinet, 27.11.1798 - oorlede te Grootplaats, dist. Pretoria, 23.7.1853), Voortrekkerleier, was die oudste van die vyf kinders van Marthinus Wessel Pretorius (19.10.1746-29.9.1831) en sy vrou Susanna Elizabeth Viljoen (1766-6.5.1844). Afgesien van halfbroers en halfsusters uit sy pa se eerste huwelik, was Andries se broers en suster: Johannes Lodewyk, Hercules, Susanna en Henning Petrus Nicolaas.

Pretorius is een van die grootste figure uit die Suid-Afrikaanse verlede. As Voortrekkerleier toring hy ver bo sy tydgenote uit, en as aanvoerder van die Afrikanerdom se stryd teen Britse imperialisme neem hy onder die negentiende eeuse staatsmanne sy plek naas S. J. P. Kruger in. Hy kom vir die eerste keer in openbare aansien toe hy in daardie donker dae na die dood van Pieter Retief met die leiding van die veldtog teen die Zoeloes belas word. In oomblikke van krisis is hy die persoon na wie die Boere opsien vir leiding, want al kan sy demokratiesgesinde volksgenote sy invloed in tye van rus en vrede bekamp, maak sy sterk persoonlikheid, sy helder denkvermoë, sy buitengewone redenaarstalent, sy besondere organisasievermoë en sy verbasende dryfkrag van hom 'n natuurlike keuse wanneer die kragtige greep van 'n sterk leier nodig word.

Met die slag by Bloedrivier verewig hy sy naam as krygsman, en in sy talryke gevegte daarna teen sowel Bantoe as Brit bewys hy nog eens sy krygstalent. Maar Pretorius se aanspraak op 'n plek in die voorste ry van Suid-Afrika se historiese figure berus ook op sy prestasies as staatsman. In staatsaangeleenthede toon hy 'n breër visie, 'n skerper insig en 'n groter vernuf as enige van sy tydgenote, en waar sy volksgenote se vryheidsin nog nie uitgegroei het tot 'n ware nasionale bewussyn nie, is by hom reeds die eerste klanke van 'n suiwer Afrikanernasionalisme hoorbaar. Sy eie staatkundige denkbeelde wentel veral om twee pole: samesmelting van al die Voortrekkers in een staat en algemeen-erkende onafhanklikheid vir daardie staat. Reeds binne twee maande na die verbreking van die Zoeloemag probeer Pretorius om al sy volksgenote wat buite die Kaapkolonie is, tot 'n eenheid saam te snoer, en in die jare daarna beywer hy hom meer as enigiemand anders vir die staatkundige eenheid van die Voortrekkers.

Hy besef dat die krag wat in eensgesindheid lê, noodsaaklik is vir die afdwinging van die Voortrekkers se onafhanklikheid. Anders as A. H. Potgieter en die Lydenburgers, wat van mening is dat hulle die de facto onafhanklike bestaan wat hulle voer, kan behou deur alle kontak met die Britse owerheid te vermy, of as dit nie help nie verder te trek, besef Pretorius dat hierdie volstruis-politiek geen antwoord bied op die steeds noordwaarts skuiwende Britse gesag nie. Vir hom is dit duidelik dat 'n dorsland in die weste en tsetsevlieë sowel as koors in die noorde en ooste geen verdere ontvlugting toelaat nie. Daarom is hy bereid om stelling in te neem teen die noordwaartse uitbreiding van Britse gesag en die staatkundige vryheid van sy volk desnoods met geweld af te dwing. Hoewel hy by Boomplaats faal, seëvier sy denkrigting by Sandrivier toe die Britte die onafhanklikheid van die landstreek ten noorde van die Vaalrivier erken. Daarmee span hy die kroon op sy strewe vir die staatkundige vryheid van die Afrikaners buite die Britse kolonies.

Pretorius was 'n man van indrukwekkende voorkoms: goed bo die gemiddelde lengte, sterk en simmetries gebou.

Betaal die Geloftes

Betaal die Geloftes - 'n wekroep vanuit die verlede - 'n fees die geskikste monument.

Klik hier.

Soli Deo Gloria

Soli Deo Gloria is die Latyn vir "Alleen aan God die eer." 

Lees meer hier.