Kort aantekeninge oor die 1838 gelofte

Outeurs:
J. L. du Toit & Dr L. du Toit
Vlugpos: Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

Joseph Lee du Toit woon sedert AD 2001 in Ierland , maar is gebore in Suid-Afrika en was vir die grootste deel van sy lewe in Pretoria gebaseer. Hierdie artikel is die uiteindelike vrug (in AD 2008 voltooi) van 'n studie-poging wat aanvanklik uit Ierland onderneem is, maar later ook plaaslik in Suid-Afrika bygewerk en hersien is deur die sosioloog dr Lee du Toit wat in Pretoria woon. Dankbaar is ook gebruik gemaak van kommentaar en raad deur soveel vriende en kennisse dat ons onmoontlik al die name hier kan noem.

Inleiding

In 'n tydvak waar vrae rondom kulturele bestaansreg toenemend onder volksgenote na vore kom, is dit die mening van die huidige skrywers dat 'n terugkeer na die korrekte verstaan van die 1838-Gelofte 'n imperatief geword het. Hierdie artikel poog daarom ook om 'n klein bydrae te lewer tot 'n nadere begrip van die Gelofte. Daarby is dit noodsaaklik om te meld dat daar hier geen poging aangewend word om skeptici waar dit die Gelofte aangaan, tot ander insigte te bring nie, en sekerlik ook nie om oortuigde Gelofte-genote met twyfel te belas nie. Eerder wil ons diegene vir wie die Gelofte nog altyd 'n saak van groot erns is, soos ook by onsself, in hul meelewing nog verder versterk.

Ons mag ook nie nalaat om te meld dat ons gevolgtrekking rakende die historiese outentiekheid van die Sabbatsklousule in die gangbare weergawe van die Gelofte geen “nuwe navorsing” of vermetele aanslag op die volks-eiendomlike is nie, maar al meermale deur bekende behoudende skrywers aangetoon is, waarvan sommige ook in ons bronnelys tot hierdie artikel genoem word.

Die algemeen gebruikte Gelofte-weergawe was 'n samestelling wat aan die begin van die twintigste eeu aanmekaar gesit is uit die drie belangrikste beskrywings van die Gelofte wat behoue gebly het, en wel in „'n formaat waarin eietydse feesgangers op plegtige wyse die Gelofte ook opnuut self kan aflê. Hierdie gangbare weergawe van die Gelofte wat tipies op Gelofte-feeste voorgelees word, word in hierdie artikel krities vergelyk met die drie oorspronklike Gelofte-beskrywings en die relatiewe meriete van elk van die drie beskrywings word ook ondersoek. Die drie oorspronklike beskrywings is naamlik:

  1. Die amptelike notulering van die Gelofte in die Kommando-Joernaal van J.G. Bantjes, privaatsekretaris van Pretorius, en klerk van die Boere Volksraad, soos opgeteken tydens die Bloedrivier-veldtog, en later in 'n Kaapse koerant gepubliseer op versoek van dieselfde Volksraad;
  2. Die Kommandantverslag van A.W.J. Pretorius aan die Volksraad, opgeteken 'n week na die Slag van Bloedrivier (en twee weke na die eerste dag waarop die Gelofte afgelê is); en
  3. Die herinneringe van Sarel (oftewel Charl) Cilliers rakende die Gelofte, soos gedikteer vanuit sy sterfbed meer as dertig jaar na die Slag van Bloedrivier.

Met die oog op die gerief van die leser, word die onderskeie beskrywings (sowel as die algemeengebruikte feesweergawe) aangehaal, met bypassende kommentaar wat die spilpunt van die artikel vorm. Die artikel sluit met 'n aantal gevolgtrekkings rakende die kerninhoud van die eintlike Gelofte, en gee enkele aanbevelings vir moontlike verbetering op die gangbare weergawe daarvan.

Die amptelike notulering van die 1838-Gelofte

J.G. Bantjes, Pretorius se privaatsekretaris en klerk van die Volksraad, doen die volgende inskrywing op 09/12/1838 in die amptelike Kommando-Joernaal. Die joernaal wat die volledige veldtog dek, is gestuur aan die Kaapse koerant De Zuid- Afrikaan in opdrag van die Boere Volksraad, en is in dieselfde koerant gepubliseer op 14/06/1839 as 'n insetsel onder die titel “Journal der Ekspeditie van de uitgewekene Boeren, onder hunnen Hoofd-Kommandant Andreas Wilhelmus Jacobus Pretorius, (voormaals van Graaff-Reinet), tegen Dingaan, Koning der Zulus, in de maand(en) November en December 1838; - ondernomen met oogmerk om wraak te nemen, wegens den wreedaardigste en onmenselikste moord van het gewezen Hoofd der Uitgewekenen, Pieter Retief, en zyne zestig med-gezellen, en de daarop gevolgde onmenselike slagting, van mannen, vrouwen en kinderen, gepleegd door Dingaan, en zyn volk; - alsmede ter herovering der goederen en bezittingen, by die gelegenheid door hen geroofd”:

Des anderen daags, zynde de 9e, was alles nog rustig, en wy bleven hier over, om de Sabbath te vieren; terwyl ook de vorige Zaterdag avond, in de tent van de Hoofd-Kommandant, werd doorgebragt met „t zingen van enige gepaste liederen, en 'n kragtig gebed, door de heer Cilliers gedaan.

Des Zondags morgens, vóordat de godsdienst begon, liet de Hoofd- Kommandant degenen die de godsdienst zouden verrigten, by malkander komen, en verzocht hen, met de gemeente te spreken, dat zy allen volyverig in geest en in waarheid, tot God mogten bidden, om Zyne hulp en bystand, in het slaan tegen de vyand; dat hy aan de Almagtigen 'n gelofte doen wilde, (indien allen wel willen), – “om zo de Heere ons de overwinning geven mogt, 'n Huis tot zyns Grote Naams gedagtenis te stichten alwaar het Hem zal behagen,” – en dat zy ook moesten afsmeken, de hulp en bystand van God, om deze gelofte zeker te kunnen volbrengen, en dat wy de dag der overwinning, in 'n boek zullen aantekenen, om dezelve bekend te maken, zelfs aan onze laatste nageslachten, opdat het ter Eere van God gevierd mag worden.

De heeren Cilliers, Landman en Joubert, waren opgeruimd in het gemoed, om zulks te horen; zy onderhielden hunne gemeentens hierover en verkregen hunne algemene toestemming. Toen hierna de godsdienst onderscheidelik begon, nam de heer Cilliers dezelve in de tent van de Hoofd-Kommandant waar. Hy begon met het (laten) zingen uit Psalm 38 vers 12, 16, deed vervolgens het voorgebed, en sprak over de eerste 24 verzen van het 6e Kapittel uit Judicum of de Richteren; besloot vervolgens met het gebed, waarin de belofte voormeld aan God werd gedaan, en 'n krachtige smeking, om Gods hulp en bystand, in het volbrengen derzelve. Er werd weder gezongen, de 12e en 21e verzen van voorm. 38e Psalm, en hy besloot de godsdienst, door het zingen van Psalm 134.

Na de middag werd weder 'n byeenkomst gehouden, en men zong verscheidene toepasselike verzen; de heer Cilliers maakte weder 'n aanspraak, en verrigte het openbare gebed; op welke wyze, ook de avond werd doorgebracht.

Ter agtergrond is dit belangrik om eerstens te noem dat die Gelofte elke dag vir sewe dae vanaf 09/12/1838 tot en met 15/12/1838 afgelê is, waarna God op wonderbaarlike wyse uitkoms verleen het op 16/12/1838. Die presiese gebeure van die veldslag self is nie die onderwerp van hierdie artikel nie, en ons brei gevolglik nie hieroor verder uit nie.

Die feit dat juis hierdie beskrywing gestuur is aan die Kaapse koerant De Zuid- Afrikaan in opdrag van die Volksraad dui daarop dat bogenoemde teks dié instument was waarop die Boere hul volksgenote in die Kaapse Kolonie wou inlig, beide oor die gebeure rondom die Gelofte, en oor die Gelofte self.

Insiggewend ook is die feit dat die titel van die amptelike Kommandojoernaal spesifiek die frase “Uitgeweke Boere” gebruik as naam van wie later “Voortrekkers” gedoop is. (Geskiedskrywers gebruik dikwels die term “Emigrante Boere”.) Die volk was dus van die begin af as “Boere” bekend. Daar moet bygevoeg word dat die term “Afrikaner” ook nie onbekend was nie. Tog bly die feit staan dat ons pre-twintigste eeuse volksgeskiedenis deur die volksnaam “Boer” oorheers word, terwyl die term “Afrikaner” weer die twintigste eeu self oorheers. Die toenemende gewildheid in die een en twintigste eeu van die saamgestelde volksnaam “Boere-Afrikaner” is daarom nie verbasend nie, en omhels ons volksgeskiedenis en afsonderlike identiteit vollediglik.

Ons lees in die Gelofte-notule dat daar as volg belowe word: “om zo de Heere ons de overwinning geven mogt, 'n Huis tot zyns Grote Naams gedagtenis te stichten alwaar het Hem zal behagen”. Die notuleerder dui met die gebruik van aanhalingstekens aan dat hierdie gedeelte woordeliks oorgeneem is uit Pretorius se mond. Dat die notuleerder dìt juis nodig geag het moet vir ons 'n aanduiding wees van die besondere belang van juis hierdie aanhaling. Dit klink reeds met die eerste lees hier al vergesog dat alleen die oprigting van 'n fisiese kerkgebou van klei, klip en gras onder die woord “stichten” bedoel is. Neem die leser nog daarby in ag dat so 'n “Huis” gestig moet word “tot zijns Grote Naams gedagtenis” sal ons noodwendig moet begin beweeg na die interpretasie dat dit hier oor die stigting van 'n volk gewy aan die Here gaan. Die Almagtige woon in die harte van Sy kinders en nie in geboue gemaak met mense-hande nie. Sien byvoorbeeld die volgende Teksverse uit die Afrikaanse Bybel van AD 1953 geneem:

  • 1 Petrus 2:4 5: “Kom na Hom toe, die lewende steen wat deur die mense wel verwerp is, maar by God uitverkore en kosbaar is; en laat julle ook soos lewende stene opbou, tot 'n geestelike huis, 'n heilige priesterdom om geestelike offers te bring wat God welgevallig is deur Jesus Christus”;
  • Handelinge 7:48a: “Maar die Allerhoogste woon nie in tempels wat met hande gemaak is nie”;
  • Jeremia 24:7:”En Ek sal hulle 'n hart gee om My te ken, dat Ek die HERE is; en hulle sal vir My 'n volk wees, en Ek sal vir hulle 'n God wees, want hulle sal na My terugkeer met hul hele hart.”
  • (Ook die sendingopdrag word aan ons in die Woord op duidelik volksgerigte wyse opgedra in Matteus 28:19a: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies.”)

'n Volk gewy aan God deur 'n Gelofte gekoppel aan haar voortgesette bestaan is nie bloot 'n bron van besondere seëning nie, maar bring ook ernstige verantwoordelikheid daarmee saam. Losmaking van hierdie bestaanswyding bring die volk se bestaansreg in gedrang, soos ons lees in Spreuke 14:34: “Geregtigheid verhoog 'n volk, maar die sonde is 'n skandvlek vir die nasies”.

Die daarstelling van kerkgeboue (bv die Pietermaritzburgse Geloftekerk) vir God se kinders, vloei egter wel sekondêr uit die ware Gelofte-plig, aangesien 'n volk gewy aan God, nuttige geboue ter Sabbatsgebruik benodig.

Die woorde, “deze gelofte”, in die frase, “… en dat zy ook moesten afsmeken, de hulp en bystand van God, om deze gelofte zeker te kunnen volbrengen …”, spesifiseer die Gelofte, naamlik alleen die voorafgaande klousule rakende die stigting van 'n Huis tot die gedagtenis van Sy groot Naam, waar dit Hom sal behaag.

Tog hierna (dit wil sê buite die Gelofte-spesifikasie om) voeg die notuleerder by, “… en dat wy de dag der overwinning, in 'n boek zullen aantekenen, om dezelve bekend te maken, zelfs aan onze laatste nageslachten, opdat het ter Eere van God gevierd mag worden …”. Die Boere het nie gedink dit is nodig om die nageslag te bind tot dankbare herinnering van die ingrepe van God Almagtig in die lotgevalle van hul volk nie. Die herdenking is dus as 'n gegewe aanvaar, waarvoor alleen die aantekening van die gebeure en die bekendmaking daarvan nodig was. Om hierdie rede was Bantjes se rol van die begin af 'n amptelike een, en daarom is hierdie bron ook die mees gesaghebbende van die drie tot ons beskikking. Hier vind ons inderdaad die amptelike notulering van die Gelofte.

Die Boere se Psalmberyming was dié van die Nederlandse Psalmboek van AD 1773. Die aanvanklike Psalmverse wat in hierdie Sabbatsdiens gesing is stem ooreen met Psalm 38:13,17 in die Afrikaanse Bybel. Die opeenvolging van verse van vers 13 tot 17, word kragtig in vers 16 saamgevat: “want op U, HERE, wag ek; U sal verhoor, Here my God!”

Cilliers se preek blyk as teksgedeelte Rigters 6:1-24 te gehad het. Hierdie verse vertel van die oproeping van Gideon deur God, om Israel te verlos uit die onderdrukkende hand van die Midianiete. Dit begin deur 'n verwysing na die eintlike oorsaak van die onderdrukking, naamlik die sondigheid van Israel. Bevryding was hier nie net ten doel om die Midianitiese juk af te gooi nie, maar ook dat die volk na haar God moes terugkeer.

Die Here se vertroostende bemoediging kan ook nie in die konteks van die Bloedrivier-gebeure sonder betekenis vir die kleine kommando-gemeente gewees het nie. By Gideon se verwysing na sy absolute geringheid, vind ons in vers 16 die volgende: “Toe sê die HERE vir hom: Ek sal met jou wees, sodat jy die Midianiete soos een man sal verslaan.”

Enige eerlike waarnemer van die gebeure van AD 1838 sal moet erken dat die volk se bestaansreg inderdaad in gedrang was. Die geringe Gideon en sy geringe bende was God se instrument in die bevryding van die ganse Israel, beide uit die juk van Midian, maar ook ter steeds nadere terugkeer na die HERE. So was ook hierdie Boere, God se instrument waardeur die ganse volk (ja, ook die Zoeloe's self en ander buurvolke) van die bloeddorstige tirannie van Dingane bevry is, en waardeur die volk opnuut opgeroep is om op haar God te vertrou en na Hom te keer – ook in die opvolgende geslagte.

Met die skenking van oorwinning aan die Boere het daar 'n tydvak van vrede gekom soos ook in die teksgedeelte aan Gideon belowe word. In hierdie vertroue het Gideon 'n altaar aan die HERE gebou en dit genoem “Die HERE is vrede!”. So ook het die Gelofte-volk na haar oorwinning, denkend aan haar verantwoordelikhede as volk gewy aan God, aan die daarstelling van 'n altaar/kerkgebou in Pietermaritzburg en elders waar sy later gevestig het prioriteit verleen, sodat die volk gewy aan God ook stigtelik as volk haar God kon aanbid.

Die sing van verse 12 en 21 van Psalm 38 uit die Nederlandse beryming word ook vermeld. Die 1773-Beryming lui hier so roerend dat ons dit graag aanhaal:

Vers 12
Zij, die mijnen dood bejagen,
Leggen lagen,
Dreigen mij den laatsten slag,
Spreken, hoe mij „t best te krenken;
En bedenken
Mijn verderf, den gansen dag.

Vers 21
Zie mij, HEER‟, wien elk moet duchten,
Tot U vluchten.
O mijn God, verlaat mij niet;
Blijf niet, wegens mijn gebreken,
Ver geweken;
Toon, dat Gij mijn rampen ziet.

Ons word ook verder meegedeel dat verrigtinge afgesluit is met die nagtelike lof- en seëngroet van Psalm 134, waarmee die gemeente haar hoop stel enkel en alleen in die seëning van haar Verbonds-God “wat hemel en aarde gemaak het”.

Die 1838-Gelofte in die Kommandant-Verslag

Die Gelofte word ook beskryf in die volgende uittreksel uit die verslag van Pretorius aan die Volksraad, soos geskryf op 23/12/1838 – twee weke na die aanvanklike Gelofte-aflegging:

Verder wens ik Ued. ook ter kennis te brengen, dat wij alhier onder elkanderen besloten hebben om de dag onzer overwinning, zijnde Zondag, de 16e dezer maand December, onder ons ganse geslacht te doen bekend worden, en dat wij het aan de Heer willen toewijden en vieren met dankzeggingen zoals wij vóordat wij tegen de vijand streden, in 't openbaar gebed beloofd hebben; zo ook dat, zo wij de overwinning verkrijgen mogen, wij den Heere tot Zijns naams gedachtenis 'n huis stichten zullen, alwaar Hij ons zulks aanwijzen zal; welke geloften wij nu ook hopen te betalen met de hulp des Heeren; nu Hij ons gezegend en onze gebeden verhoord heeft.

Met die frase, “… dat wij alhier onder elkanderen besloten hebben om de dag onzer overwinning, zijnde Zondag, de 16e dezer maand December, onder ons ganse geslacht te doen bekend worden, en dat wij het aan de Heer willen toewijden en vieren met dankzeggingen …”, maak Pretorius dit duidelik dat dit “wij” (d.w.s. die toe huidige geslag) was wat die dag wou toewy en vier. Al wat die Boere volgens Pretorius onder hul “ganse geslacht te doen bekend worden” is die “dag onzer overwinning”. Die nageslag word geensins tot viering gebind nie, omdat 'n dankbare Gelofte-volk nie sodanige binding nodig het om haar aan te spoor tot herinnering van God se uitreddende ingrepe in haar geskiedenis nie. Die Gelofte- binding behoort dus eerstens as 'n volkswyding gesien te word, waaruit die noodwendige vrugte, soos dankbare herdenking voortspruit.

Verder merk ons weereens op dat die Nederlandse woord “stichten” ook in hierdie beskrywing (soos in dié van Bantjes) gebruik is: “… wij den Heere tot Zijns naams gedachtenis 'n huis stichten zullen, alwaar Hij ons zulks aanwijzen zal …”.

Die Nederlandse Statenvertaling van die Bybel uit AD 1637 het in die bestaan van die Emigrante Boere 'n sentrale plek ingeneem. Om absolute sekerheid te hê oor die betekenis wat hul geheg het aan hierdie woord “stichten” soos in die 1838-Gelofte genotuleer, hoef ons dus nie verder te soek as juis die gebruik hiervan in die Statenvertaling nie. Die woorde “stichten/sticht/stichting” kom veertien keer voor in daardie vertaling, en kan as volg opgesom word:

Waar God Sy Naam sal stig (oftewel laat gedenk) (Eksodus 20:24);
Om 'n stad te stig (oftewel 'n gemeenskap daar te stel) (Psalm 107:36);
Om die onheil of die goeie te stig (oftewel te bewerk) (Spreuke 14:22); en
Om tot die stigting van jou naaste en jouself te dien (oftewel tot versterking te dien) (1 Korintiërs 8:1;10:23;14:3-5,12,17,26 & 1 Tessalonisense 5:11).

Daar is dus nêrens sprake daarvan dat 'n mens met sy eie hande 'n Godshuis/-gebou “stig” nie, maar eerder by uitstek in die konteks van die 1838-Gelofte en Eksodus 20:24, dat dit God is wat Sy Naam in die midde van Sy volk stig, ook daar waar hy hulle aanwys om te woon, en waar hulle hul altare/kerkgeboue oprig om Hom gesamentlik te aanbid.

'n Verlangse neef van Andries Pretorius, wat self ook die Slag van Bloedrivier meegemaak het, Dewald Pretorius, skryf sy herinneringe daaraan neer in AD 1862. Vir hom het die Gelofte behels dat “kerke en skole tot die eer van die Here gebou moes word”. (Sien bladsy 31 van die Bailey-tesis in ons bronnelys.) Dat daar hier 'n duidelike verkonkretisering is van die vestiging van 'n Christelike en beskaafde volk hoef ons nie aan te twyfel nie.

Trouens, by die Hoofkommandant van die Strafveldtog, Andries Pretorius, blyk hierdie hoop van volkstigting tot die eer van God sentraal te staan, selfs al voor hy in Natal by die Emigrante Boere aangekom het. Pretorius se biograaf, Gustav Preller, vertel: “Tot aan sy vertrek na Natal, op 1 Sept. 1838, het Pretorius nog …(ge)skryf dat … „as dit die Almagtige behaag, sal ons dáár tot 'n volk word, wat tot Sy eer leef‟.” (Sien bladsy 458 in Preller se Andries Pretorius – Lewensbeskrywing van die Voortrekker Kommandant-Generaal, soos ingesluit by ons bronnelys.)

Die 1838-Gelofte in 'n terugblik vanuit 'n sterfbed

Die volgende uittreksel uit Sarel Cilliers se herinneringe aan die gebeure van AD 1838, soos gedikteer vanuit sy sterfbed in AD 1871, bied ook perspektief op die Gelofte:

De hr. Pretorius sprak met mij, ook ik met hem over de belofte die de Bijbelheiligen gedaan hadden, dat ook wij de Heer 'n belofte moeten doen als de Heer ons de overwinning over onze vijand zou geven, dat wij dan die dag als 'n Sabbat elk jaar zouden heiligen … toen kwamen wij tot het besluit dat wij de Heere onze God 'n belofte plegtig zouden doen als de Heer met ons zal gaan, en dat Hij onze vijand in onze handen zouden geven, dat wij de dag in elk jaar zouden heiligen, en so doorbrengen als 'n Sabbat .

'n Belangrike leidraad word hier feitlik terloops genoem: “… over de belofte die de Bijbelheiligen gedaan hadden …”. Een so 'n belofte/gelofte uit die Bybel is die Gelofte van Jakob by Bet-El in Genesis 28:20-22: “En Jakob het 'n gelofte gedoen en gesê: As God met my sal wees om my te bewaar op hierdie weg wat ek gaan, en aan my brood sal gee om te eet en klere om aan te trek, en ek behoue na die huis van my vader sal terugkom, dan sal die HERE my God wees. En hierdie klip wat ek as gedenksteen opgerig het, sal 'n huis van God wees, en van alles wat U my gee, sal ek aan U sekerlik die tiendes afstaan.”

Let op dat die kern van Jakob se Gelofte gevind word in die woorde “… dan sal die HERE my God wees”. Daarby voeg hy dan ook as natuurlike uitvloeisel tot sy kern- Gelofte, herdenking (sien “gedenksteen”) en 'n dankbaarheidslewe (sien “…'n huis van God wees” en “… sekerlik die tiendes afstaan”).

Die kantaantekeninge van die 1637-Statenvertaling waarmee die Emigrante Boere by uitstek vertroud was, verduidelik hier as volg:

„En Jakob het 'n gelofte gedoen‟: d.i. begerende sekere weldade van God, waarvoor Jakob homself verbind in 'n verbond tot dankbaarheid; „ … dan sal die HERE my God wees‟: d.i. ek sal Hom geduriglik as ware God en Saligmaker erken en bely en tot daardie doel die Godsdiens instel en volg; „En hierdie klip … sal 'n huis van God wees‟: d.i. 'n plek wat ek sal heilig vir die Godsdiensbeoefening deur my en die wat aan my behoort; „… en van alles wat U my gee, sal ek aan U sekerlik die tiendes afstaan‟: d.i. tot onderhouding van die Godsdiens en tot beoefening van welwillendheid tot diegene in nood.

Verder is daar in die Woord ook ten minste ses Geloftes van volkswyding geïnisieer in tye van nasionale krisis, elk gerig daarop dat die volk haar voor God in gehoorsaamheid sou verootmoedig en Sy gebooie sou onderhou, om sodoende 'n volk van (of gewy aan) die HERE te wees. Hierdie is naamlik aangegaan onder die leierskap van Josua (Josua 24:25-27), Asa (2 Kronieke 15:12), Hiskía (oftewel Jehiskía) (2 Kronieke 29:10), Jójada (2 Konings 11:17), Josía (2 Konings 23:1-3 & 2 Kronieke 34:29-33) en Nehemía (Nehemía 9:32 – 10:39).

Dit is nie net die Boere-Afrikaner wat hierdie voorbeeld van volkswyding uit die Bybel nagevolg het nie, maar soortgelyke nasionale Geloftes in krisistyd vind ons ook in Frankryk, Switserland en Hongarye en veral onder daardie drie volke wat (soos onsself) histories oorweldigend, standhoudend en soms selfs per definisie van Gereformeerde oortuiging was, naamlik die volke van Nederland en Skotland, en die Ulster-Skotte (oftewel Skots-Iere) van Noord-Ierland.
Wat Nederland betref was daar die “Verbond der Edelen” van AD 1565 aan die begin van die Tagtigjarige Oorlog wat die beëindiging van die vervolging van die Protestante in die Nederlande (toe onder Spaanse dwinglandy) ten doel gehad het.
In Skotland was daar verskeie Geloftes in intervalle vanaf AD 1556, maar die beroemdste is sekerlik die Nasionale Gelofte van Skotland in AD 1638, wat ook onder die Skotse volksgenote in Noord-Ierland onderskryf is, en later uitgeloop het op die daarstelling van die “Solemn League and Covenant” van Engeland, Skotland en Ierland. Laasgenoemde, is later tot niet verklaar en dit was veral in Skotland en Noord-Ierland wat Gereformeerdes bekend as die “Kovenanters” deur wrede vervolging vanaf Anglikaanse kring met hul bloed moes betaal vir die handhawing van hierdie Gelofte wat Christus se Koningskap oor Kerk en Staat grondwetlik in erkentenis gebring het.

Ons kan hier net terloops noem dat daar intieme interaksie was tussen die laat 17de eeuse Skotse Tweede Reformasie wat die Kovenanters opgelewer het, en die Nadere Reformasie in Nederland, waarvan die invloed nog sterk onder die Emigrante Boere van die 19de eeu aanwesig was. As 'n voorbeeld hiervan is daar James Renwick, 'n groot leiersfiguur onder die Skotse Kovenanters, wat in Nederland verordineer is as predikant onder die simpatieke toesig van die beroemde eksponent van die Nadere Reformasie, Wilhelmus à Brakel. Brakel was die outeur van een van die mees invloedrykste werke in gebruik onder die Emigrante Boere, naamlik De Redelijke Godsdienst. Op bladsy 7 van Bailey se magistertesis oor die Gelofte (sien ons bronnelys) staan die volgende: “Die oorsprong van die Trekkers se Gelofte van 1838 is in die geskrifte van die Nederlandse Protestant en teologeise skrywer, Wilhelmus à Brakel (1635-1711) te vinde.”

Dit is egter nodig om vir 'n oomblik stil te staan by die volgende uittreksel: “… dat ook wij de Heer 'n belofte moeten doen als de Heer ons de overwinning over onze vijand zou geven, dat wij dan die dag als 'n Sabbat elk jaar zouden heiligen … toen kwamen wij tot het besluit dat wij de Heere onze God 'n belofte plegtig zouden doen als de Heer met ons zal gaan, en dat Hij onze vijand in onze handen zouden geven, dat wij de dag in elk jaar zouden heiligen, en so doorbrengen als 'n Sabbat …”:

Op grond van die Gereformeerde verstaan van die Tweede Gebod, soos spesifiek uiteengesit in deel (b) van Vraag en Antwoord 96 van die Heidelbergse Kategismus (met Skrifbewyse: 1 Samuel 15:23, Deuteronomium 12:30 en Matteus 15:9), mag ons God op geen ander manier vereer as wat Hy in sy Woord beveel het nie. Aangesien die weeklikse Sabbat (die Vierde Gebod) daarom ten volle genoegsaam is, is die menslike byvoeging van 'n addisionele jaarlikse heilige Sabbat nie in ooreenstemming met die Woord van God nie. Dit is ook 'n logiese afleiding dat enige addisionele menslike jaarlikse Sabbat die heiligheid (oftewel afgesonderdheid) van die weeklikse Sabbat (bo alle ander dae in die jaar) sal ondermyn. Meerdere sulke byvoegings kan moontlik 'n negatiewe impak hê op die “ses dae”-werksgebod wat ook deel uitmaak van die vierde gebod.

Daar word dikwels ten opsigte van die Sabbatsklousule onderskei tussen “soos 'n Sabbat” en “as 'n Sabbat”, met die implikasie dat eersgenoemde nie Geloftedag tot 'n addisionele jaarlikse Sabbat sou verklaar nie. In 'n brief enkele jare voor die neerpenning van sy herinneringe gee Cilliers ook 'n beskrywing van die Gelofte, maar dié keer sonder die gebruik van die woord “Sabbat”. In die aanhaling uit sy herinneringe hierbo lees ons van “als 'n Sabbat”, d.w.s. “as 'n Sabbat”, en daarby blyk die konteks van Cilliers se frase baie spesifiek te dui op Sabbatsheiligheid soos gesien kan word in die frases “die dag als 'n Sabbat elk jaar zouden heiligen” en “dat wij de dag in elk jaar zouden heiligen, en so doorbrengen als 'n Sabbat”. Elders in sy herinneringe gee hy 'n weergawe van die Gelofte soos dit dan per toespraak sou gelewer gewees het (alhoewel hy op 'n ander plek noem dit was per gebed afgelê). In hierdie Gelofte-weergawe praat Cilliers van “zoo als een Sabbath” (d.w.s. “soos 'n Sabbat”), en die byvoeglike naamwoord “heilig” word uitsluitlik daarin t.o.v. God, en nie die dag gebruik nie.

Dit is laasgenoemde wat G.B.A. Gerdener veral swaar op gesteun het toe hy in die begin van die twintigste eeu 'n seremoniële weergawe van die Gelofte saamgestel het – 'n weergawe wat later in opdrag van die FAK deur W.E.G. Louw in Afrikaans vertaal is. Alhoewel hierdie algemeengebruikte Gelofte-teks in haar Sabbatsklousule bloot van 'n “dankdag” praat en byvoeg “soos 'n Sabbat sal deurbring”, vier volksgenote tipies wel Geloftedag as 'n heilige Sabbat, en beskou dit boonop soms as die belangrikste of selfs enigste Gelofteplig. Dit is daarom ook geen bron van verbasing nie dat onder die stuur van die welmenende Afrikaanse Nasionale regerings van die tweede helfte van die twintigste eeu, ook Geloftedag ingesluit is onder die Sabbatswetgewing, wat eerstens die onderhouding van die weeklikse Sabbat ten doel gehad het. Sodoende was en is Geloftedag steeds onder die Boere-Afrikaanse volk grootliks ten minste 'n 53ste Sabbat in die jaar, of nog erger 'n jaarlikse Sabbat van veel groter heilige inhoud as die ander 52. In hierdie verband blyk die gebruik van die woord “Sabbat” onnodig verwarrend te wees.

Verder sou so 'n klousule in stryd wees met die ander twee Gelofte-bronne wat (anders as Cilliers se herinneringe) tydens die Gelofte-gebeure self opgeteken is. So word moontlik ook die Negende Gebod in gedrang gebring.

Die herdenking van Geloftedag is daarom geen direkte deel van die Gelofte nie, en mag beslis nie as 'n heilige Sabbat ingestel word nie. 'n Volksfees van dankbare herinnering spruit egter wel sekondêr uit die ware Gelofte waarin die volk toegewy was aan God. Cilliers se Sabbat-intensivering van geskiedenisherdenking as die noodwendige gevolg van volksdankbaarheid (opsigself 'n natuurlike kenmerk van 'n volk gewy aan God), is 'n verstaanbare (alhoewel wederregtelike) poging om 'n dikwels ondankbare en vergeetagtige volk na haar wyding voor God terug te dryf.

Daarby behoort daar gevra te word of die oppervlakkige oorbeklemtoning op herdenking as hoofsaaklike (of selfs enigste) Gelofte-plig, nie 'n sluier van onkunde oor die veel uitdagender ware Gelofte-plig trek nie.

Alombekende teks van die 1838-Gelofte Die volgende weergawe van die Gelofte is redelik wyd in gebruik byvoorbeeld tydens feesvieringe op 16 Desember:

Hier staan ons voor die heilige God van hemel en aarde om 'n gelofte aan Hom te doen dat as Hy ons sal beskerm en ons vyand in ons hand sal gee, ons die dag en datum elke jaar as 'n dankdag soos 'n Sabbat sal deurbring, en dat ons 'n Huis tot Sy eer sal oprig waar dit Hom behaag, en dat ons ook aan ons kinders sal sê dat hulle met ons daarin moet deel tot nagedagtenis ook vir die opkomende geslagte, want die eer van Sy Naam sal verheerlik word deur die roem en die eer van oorwinning aan Hom te gee.

Terwyl die Gelofteafleggers in bostaande mekaar aanspreek, is dit duidelik uit beide die Kommando-Joernaal en die Kommandant-Verslag dat die Gelofte in gebed afgelê is, dit wil sê dat dit God is wat in die aflegging aangespreek was. Dit strook ook met die voorbeelde van Geloftewydings in die Bybel wat ons reeds na verwys het.

Gevolgtrekkings en aanbevelings

In die lig van die drie bronne tot ons beskikking vir die Gelofte (en die aard en gewig van elk) kan die volgende gekonstateer word:

- Die Gelofte behels as volledige Gelofte verantwoordelikheid die stigting (en voortgesette stigting) van 'n volk van God, gewy aan God, en in diens van God, en gevestig waar dit God sal behaag, en is daarom volkome in ooreenstemming met die Woord van God. In hierdie dienswyding (ook in die uitdra van die Evangelie aan ons buurvolke) is daar verder 'n teruggrype na een van die gestelde doelwitte van die daarstelling van die Nederlandse nedersetting aan die Kaap in AD 1652 “waer door als Godt Almachtigh dese goede saecke geliefden te zegenen ... veel sielen tot de Christelijcke gereformeerde religie ende Godt toegebracht werden”.

Die herdenking van en herbesinning oor die Gelofte op die 16de Desember elke jaar (nie as of soos 'n Sabbat nie, maar as volksfees), sowel as die oprigting van die Pietermaritzburgse Gelofte-kerk (en ander kerkgeboue ter Sabbatsgebruik), is nie die kern-Gelofteplig nie (sien die amptelike notulering van die Gelofte in die Kommando-Joernaal), maar wel `n nuttige en noodsaaklike volksplig wat voortvloei uit die ware Gelofte- verantwoordelikheid, soos hierbo uiteengesit.

Die alombekende teks behoort gewysig te word om latere byvoegings (sien Sarel Cilliers se herinneringe, waarin die Sabbatsklousule meer as dertig jaar na die gebeure vir die eerste keer opgeteken is), onduidelike vertaling (sien gebruik van die woord “oprig” in die bekende teks in vergelyking met die Joernaal Nederlands “stichten” wat in beide die Kommando- en die Kommandant-Verslag gebruik word) en onjuiste afleggingsformaat (sien die aanspreek van mekaar in die gangbare teks eerder as gebed tot God soos in die Kommando-Joernaal en die Kommandant-Verslag) te korrigeer.

Die gekorrigeerde teks behoort as volg te lees:
Hier staan ons voor U onse Vader, die heilige God van hemel en aarde, om 'n Gelofte aan U te doen dat as U ons sal beskerm en ons vyand in ons hand sal gee, ons 'n Huis tot U eer sal stig waar dit U behaag, en dat ons ook aan ons kinders sal sê dat hulle met ons daarin moet deel tot nagedagtenis ook vir die opkomende geslagte, want die eer van U Naam sal verheerlik word deur die roem en die eer van oorwinning aan U te gee. Ons smeek hiermee ook U hulp en bystand af om hierdie Gelofte verseker te kan volbring, in die Naam van U Seun en ons Verlosser, Jesus Christus. Amen

Bronnelys

Adendorff, M.C. (2002) 350 jaar Gereformeerd. Die Boodskapper April: 5.

Bailey, A. (2002) Die Gelofte van 16 Desember 1838: Die Herdenking en Betekenis daarvan, 1838 tot 1910. Magistertesis ingedien by die Universiteit van Pretoria.

Bantjes, J.G. (1839) Journal der Ekspeditie van de uitgewekene Boeren, onder hunnen Hoofd-Kommandant Andreas Wilhelmus Jacobus Pretorius, (voormaals van Graaff-Reinet), tegen Dingaan, Koning der Zulus, in de maand(en) November en December 1838. Insetsel in die Kaapse koerant De Zuid-Afrikaan gepubliseer op 14/06/1839 AD.

Bijbel (1637) Nederlandse Statenvertaling.

Bybel (1953) Hersiene Afrikaanse Uitgawe. Kaapstad: Bybelgenootskap van Suid- Afrika.

D‟Assonville, V.E. (2000) Bloedrivier. Weltevredenpark: Marnix.

De Jongh, P.S. (1987) Sarel Cilliers. 'n Biografie oor die Voortrekkerfiguur Sarel Cilliers. Johannesburg: Perskor Bpk.

Hofstede, H.J. (1876) Geschiedenis van den Oranje-Vrijstaat. Den Haag: D A Thieme.

Jacobsz, S.W. (Ongedateerd) Die Bloedrivier Strafveldtog. Braamfontein: Die Bywoner.

Preller, G.S. (1938) Andries Pretorius - Lewensbeskrywing van die Voortrekker Kommandant-Generaal. Johannesburg: Die Afrikaanse Pers Bpk
.
Preller, G.S. (1938) Voortrekkermense Deel VI. Kaapstad: Nasionale Pers Bpk.

Psalmen. (1773) Nederlandse Psalmboek.

Reformed Presbyterian Synod. (1990) Testimony of the Reformed Presbyterian Church of Ireland. Reformed Presbyterian Synod.

Spoelstra, B. (1989) Gereformeerde Kerkreg en Kerkregering. Pretoria: BUO/PU vir CHO.

Thom, H.B. (1949) Die Geloftekerk en ander studies oor die Groot Trek. Kaapstad: Nasionale Pers Bpk.

Van Jaarsveld, F.A. (1987) Die eerste openbare viering van 16 Desember. Tydskrif vir Geesteswetenskappe 27 (1): 43.

Van Jaarsveld, F.A. (1988) Die Groot Trek in die historiese bewussyn van die Afrikaners. Herdenkingsjaar 1988: 102

Van Jaarsveld, F.A. (1978) Geloftedag in die ban van die tyd. Tydskrif vir Geesteswetenskappe 18 (3 en 4): 224.

Die Gelofte

"Hier staan ons voor die heilige GOD van hemel en aarde om 'n gelofte aan Hom te doen dat as Hy ons sal beskerm en ons vyand in ons hand sal gee, ons die dag en datum elke jaar as 'n dankdag soos 'n sabbat sal deurbring, en dat ons 'n huis tot sy eer sal oprig waar dit Hom behaag, en dat ons ook aan ons kinders sal sê dat hulle met ons daarin moet deel tot nagedagtenis ook vir die opkomende geslagte want die eer van Sy naam sal verheerlik word deur die roem en die eer van oorwinning aan hom te gee."

Betaal die Geloftes

Betaal die Geloftes - 'n wekroep vanuit die verlede - 'n fees die geskikste monument.

Klik hier.

Soli Deo Gloria

Soli Deo Gloria is die Latyn vir "Alleen aan God die eer." 

Lees meer hier.